Skip navigation.
Jesusred! Maar die dwaas sê in sy hart dat daar nie 'n GOD is nie...

Pat:- Gered uit vormgodsdiens

Is dit moontlik dat Jesus ‘n mens kan verander? Kom ek vertel vir u van wat met my gebeur het en al die “hang ups” wat daarmee gepaard gegaan het.

Ek het in ‘n christelike huis grootgeword, maar soos dit maar gegaan het was alles baie geforseerd. Moet sondagskool toe en alles wat daarmee gepaard gegaan het.

Nadat ek getroud is was ons nogal redelik getroue kerkgangers, maar ek het ook voorwaardes gehad met die kerkganery. Die dominee moes besef ek was nie ‘n alledaagse tipe mens nie en het ek ook bydraes gegee soos wat dit my gepas het. As ons die maand gaan rondry het het ek maar net gesorg dat ek die aand as die diaken gekom het nie daar was nie. Later toe dit finansieël met my baie goed gegaan het het ek graag baie meer gegee maar gesorg dat mense dit raaksien. Dit is mos soos dit maar gaan.

Dit het goed gegaan en ek het so eenmaal per jaar vir my en my vrou ten minste een nuwe motor gekoop en natuurlik was dit die top model in die reeks en ek het ook so twee nuwe bakkies en n double cab gehad.

Toe een oggend word die mat onder my uitgepluk. Na jare se wonder en vrae het ek besef God laat nie met Hom mors nie. Hy laat jou ook nie uit Sy hand nie, alhoewel ons dit nie altyd op daardie tydstip besef nie. Ek het die oggend by die werk eenvoudig ‘n brief gekry wat gesê het dat ek dieselfde middag moes klaarmaak omdat die firma oor die 70 mense laat gaan het weens finansieële druk. Ek was betrokke by die finansieële afdeling ook en dit het beslis nie so gelyk nie. Daardie selfde middag het ek ontvangs geneem van my nuwe double cab.
Ek het ‘n lang stryd gehad vir finansieële oorlewing. Niks wou uitwerk nie, my erfporsie wat die helfte van ‘n plaas ingesluit het is my ontneem, eenvoudig niks wou uitwerk nie.

Nadat ek feitlik alles verloor het, asook my vrou haar permanente onderwyspos, het die Here die pad anders aangewys. Op daardie stadium het ons gebid maar niks was eintlik op stewige fondamente nie. Nadat my huis vir meer as twee jaar in die mark was is dit skielik verkoop (ons het die paaiemente darem nog kon betaal) en ons moes gedurende die Desember maand blyplek soek.

Een oggend het ons voor ‘n kerk stilgehou en ons bel ‘n agent vanaf die selfoon om te hoor of ons nie iewers ‘n huis in die omgewing kan huur nie. Sy het ons ‘n adres gegee en gesê die huis is te koop vir ‘n baie billike prys. Die huis was aan die oorkant van die straat waar ons stilgehou het en natuurlik oorkant die kerk. Ons het net daar om die huis gestap en sy het daar aangekom. Ek het sommer daar en dan besluit ons koop die plek en ‘n aanbod gemaak. Geld het ons nie gehad nie, maar het nie eers daaraan gedink nie. Die mense het die aanbod aanvaar en ons moes finansiering kry. Ek het geen inkomste gehad nie en my vrou se inkomste was nie genoeg nie. Dit was nag. My dogter kom toe die naweek huistoe en deel ons mee dat die bank vir haar ‘n brief gegee het dat sy kwalifiseer vir ‘n verband en dit is ietwat meer as die bedrag wat ons benodig vir die huis. Ons het besluit dat sy en my vrou die huis op beide se name sou koop maar ons sou verantwoordelik wees vir die betaling. Hierdie was ‘n groot draai in my lewe.

Ons het ingetrek en ek het uiteindelik een bakkie oorgehou met ‘n gesukkel is dit klaar betaal. Nadat dit betaal is het ek nog nooit weer een maand die geld bymekaar kon maak wat ons daarop afbetaal het nie. Hoe dit gebeur het is vandag nie meer ‘n raaisel nie, want ek weet God het dit aan my beskikbaar gestel op Sy besonderse manier. Die predikant van die kerk oorkant die straat het op daardie stadium tydig en ontydig kom “kuier”. Ek was ouderling in my kerk en my vrou was orreliste. Ek het Sondagskool ook gegee. Hy het baie met ons gepraat en later het ons vriende begin word, maar ek was steeds vasgevang in die leer van die uitverkiesing. Ek het begin om die kerk te besoek en het later ook die bidure bygewoon, maar was steeds nie werklik van plan om uit my kerk te gaan nie en het wel begin sien hoedat my godsdiens nie vir my die oplossing was nie, want die diepte wat ek by die mense oorkant die straat ervaar het was nie in my godsdiens nie. Ek het ‘n reeks dienste oor die wederkoms bygewoon en dit het my hard geruk en my laat besef dat as Jesus sou kom ek nie sou saamgaan nie. Hierdie wroeging het my soms in die aande uit die slaap gehou.

Die predikant het met my gereeld daarna gepraat en ek het begin besef ek is verlore. Toe eendag het hy weer daar gekom en my vertel hoedat ek sekerheid kan verkry (1 Joh 5). Ek het daardie aand my oorgawe gemaak (ongelukkig kan ek die datum nie onthou nie, maar dit was Mei 2004) en besef dat ek reeds uitverkies was ek moes dit net aanneem. Dit is net jammer dat ek dit so laat in my lewe aanvaar het. Ons huisgesin se totale lewe en opvatting het verander. Met Sy genade en baie gebede is ek verlos van nie net die rookgewoonte nie maar ook van humeurigheid en dwase sienings van baie dinge.

Ons is vandag nog in die huis en met Sy genade betaal ons nog ons plek, maar die pad wat die Here met my geloop het is onbegryplik. Hoe Hy my hierheen gelei het en hoedat Hy bemoeienis met my gemaak het is wonderlik. Eers het HY my omtrent gestroop van my eie ek en besittings , na iemand met feitlik geen aardse besittings maar met ‘n volmaakte geluk en tevredenheid met dit wat ek het en ook nie het nie. Hy het my nie weer aardse besittings gegee nie maar ‘n aardse tevredenheid en vrede, vreugde en het Hy my diensbaar gemaak vir die werking van Sy Koninkryk. Ek weet ‘n hemelse kroon sal ek kry, hoe groot maak nie saak!